12 Begrotingsmites wat jou weerhou van sukses

Hello daar! Begroot kom nie natuurlik vir almal nie, boonop is daar nog wolhaarstories wat die rondte doen om jou af te skrik. Begrotings is nie daar om jou te straf nie, dis juis daar om vir jou mag en vryheid te gee. Dit kan nogal selfs belonend wees as jy dit verder as die 3de week maak. Ek is seker daar is nog talle van hierdie leuens daar buite, maar die 12 mites wat ek vandag wil bust is soos volg:

  1. Begrotings is boring

Weet jy wat is eintlik boring? Kredietkaartstate, regsaksie en skuldberading: wat vir baie mense die gevolg is daarvan om nie te begroot nie. Begroot kan badass wees, veral as dit vir jou vryheid en gemak kan beteken; om nie eers te praat van die rustige slaap nie.

 

  1. Begroot neem te lank!

Dit neem ook lank om uit te figure hoekom jy broke is, of te moet begroot op ‘n pensioen wat nie naastenby voldoende is nie. Begroot vat egter nie só lank as wat ons onsself gerieflik probeer oortuig nie. Ja, dit neem ‘n rukkie aanvanklik, maar as jy dit onder die knie het is dit vir jou ‘n tweede natuur. Uiteindelik is dit so eenvoudig soos ‘n paar minute elke maand. Daar is talle hulpmiddels om dit vir jou makliker en vinniger te maak, soos gratis toepassings op jou foon of rekenaar, of selfs hierdie handige begrotingsjabloon.

 

  1. Begrotings moet verskriklik baie detail bevat.

Jou begroting hoef nie lyn-vir-lyn elke item waarop jy geld spandeer te bevat nie. Dit kan met persentasies, oorkoepelende bedrae, of met net 3 kategorieë werk. Die magic daarvan is dat jy hom kan ontwerp sodat hy werk vir jóú. Daar is baie maniere om te begroot waarvan ‘n paar voorstelle te vinde is in dié gratis Begrotings 101 gids. Jy kan selfs net die ‘betaal jouself eerste’-beginsel volg en seker maak jy spaar eers ‘n sekere gedeelte en die res het jy vrye teuels mee.

 

  1. Ek verdien nie genoeg nie/ek verdien te veel om ‘n begroting op te moet stel

As jy dink jy verdien te min om ‘n begroting te moet hê, is hierdie eintlik juis die ding wat jy nodig het. Dis skokkend hoeveel spasie vir asemhaal jy dalk mag vind as jy vir jou geld opdrag gee oor waarheen om te gaan eerder as om te wonder waarheen dit is. Klein veranderinge in jou leefstyl tel op en kan jou dalk maklik by jou doelwitte kry. As dit kom by te veel (wat ‘n lekker probleem om te hê!) dan is begrotings juis vir jou ook belangrik, want hierdie is dan die perfekte tyd om seker te maak jy maak genoeg voorsiening vir eendag en noodgevalle. Dit is ook baie makliker om geld te mors sonder dat jy dit agterkom wanneer jy net spandeer sonder om daaroor te dink.

 

  1. Ek is nie goed met wiskunde nie of ek hou nie spreadsheets nie

Goed – hierdie een verbaas my elke keer wanneer ek hom hoor. Jy het basies Graad 3 wiskunde nodig om ‘n begroting op te kan stel en jy kan ‘n papier ook gebruik. Selfs ‘n toepassing op jou foon. Inteendeel, as jy die telraam in Graad 1 bemeester het behoort jy piekfyn te wees. Dis so eenvoudig soos: vir elke Rand wat in kom, moet daar ‘n Rand wees wat ‘n plek kry op jou begroting. Die ideaal is om dan met ‘n balans van R0 te eindig. As jy meer spandeer as wat jy verdien – doodeenvoudig, jy moet sny.

 

  1. Ek doen ‘n begroting in my kop

As jy ‘n begroting presies tot op die sent kan laat balanseer in jou kop en presies weet hoeveel jy spaar en waarheen jou geld is, is jy dalk die slimste mens op Aarde. Dalk moet jy aanbied om die land se begroting te doen? As jy net begroot in jou kop, begroot jy nie ordentlik nie. Weet jy presies watter persentasie van jou inkomste word gespaar? Is dit genoeg vir jou om mee gemaklik af te tree?

 

  1. Hoekom die moeite doen as daar elke maand onverwagse uitgawes opduik?

As daar elke liewe maand ‘n sekere uitgawe opduik, dan is dit mos nie meer onverwags nie. Noodgevalle word voor beplan met ‘n Ag f*k-fonds en jy kan natuurlik ‘n afdeling in jou begroting insluit vir allerlei uitgawes sodat jy juis kapasiteit het vir hierdie dinge.

 

  1. Jy mag nooit oor jou begroting gaan nie.

Bog man, lewe ons in ‘n perfekte wêreld? Nie eers amper nie. Lewe gebeur met ons almal. Dit behoort jou nie van koers af te gooi sodat jy nie die meerderheid van die tyd sukses kan behaal nie. As jy byvoorbeeld hierdie maand R300 meer spandeer op inkopies, maar minder op brandstof, kan jy dit so weer laat balanseer. Dit is belangrik om hierdie dinge in ag te neem wanneer jy jou begroting opstel, want dit gaan nie help jy is so streng op papier dat jy opgee nog voordat jy begin het nie. Wees realisties.

 

  1. Begroot ontneem my van lekkertes!

Begrotings is nie veronderstel om jou te ontneem van alle bederf nie. Dit is ‘n hulpmiddel om jou in staat te stel om jou finansies wys en met ‘n doel in sig te bestuur. Spaarsamig en ‘goedkoop’ is nie dieselfde ding nie. As jy hou van fancy koffie, maak spasie daarvoor in jou begroting. Besluit wat is jou noodsaaklike uitgawes en werk rondom dit. Passop net dat die samelewing nie namens jou besluit om roekeloos te wees met jou geld net omdat jy wil byhou met die modes en wat vir ander mense belangrik is nie. Hulle gaan nie saam met jou plan maak wanneer daar nie meer geld is nie.

 

  1. Nou is nie die regte tyd nie

Wanneer presies is dit die regte tyd?

 

  1. Ek is skuldvry, so ek begroot nie.

Dis goeie nuus dat jy skuldvry is, dit het egter byna niks daarmee te doen of jy moet begroot of nie. Begroot is belangrik as jy skuld het sodat jy ekstra fondse kan bevry om jou skuld af te betaal. As jy egter geld het wat nie ‘n werk het nie, is dit heel waarskynlik dat dit net spandeer gaan word en dan net so belangrik om te begroot en te voorkom dat jy al jou geld uit gee en opeindig met geen spaargeld vir aftrede of vir daardie eilandvakansie nie.

 

  1. Ek spaar elke maand, so begroot is nie nodig nie.

Selfde as by van die ander mites: Spaar jy genoeg? Het jy 100% vryheid wat jou lewe aan betref omdat geld geen probleem is nie?

Op die ou einde van die dag, moet jy die dinge wat vir jou belangrik is prioritiseer om sukses te behaal.  Begroot is badass en ongelooflik belonend as jy dit toepas en daarby hou. Hoeveel keer het jy nie al gesê : “hulle moes eerder dit, dat en die volgende vir ons in LO leer” nie? Dis nie jou skuld as jy sekere dinge nie op skool geleer is nie, dit is egter op niemand anders as jouself as jy nie mag in jou eie hande neem na skool nie.

Oor en uit.