Haai!
Laasweek het ons gesels oor begroot en jy het gereedskap gekry om jou geldsake te help beheer soos hierdie nuttige gids en Excel sjabloon, gesels ons die week oor daardie nimmereindige uitgawe op kruideniersware.
Dit is asof mens altyd meer uitgee op so uitstappie vir inkopies as wat jy beplan het. Dit laat mens se hart boonop nog ‘n bietjie breek elke keer as jy moet weg gooi wat verval het, voordat jy daarby uitgekom het. Dis so goed jy gooi jou geld direk in die asblik.
My pa sê altyd dat Suid-Afrikaners hulle grafte met ‘n mes en vurk grawe.
Ek weet ons almal is lief vir kos en ons wil almal lekker eet, dit beteken egter nie dat jy jouself in skuld in hoef te eet nie. Ek gaan vir jou ‘n lysie maak hieronder van die TOP WENKE, want lysies is cool. Lysies is veral cool wanneer jy moet gaan inkopies doen en hou jou uit die versoeking uit.
- Moet nooit honger gaan inkopies doen nie. Jy weet hierdie so goed soos ek, so pas dit toe. Elke bemarker in die wêreld lag vir jou as jy ‘n lekkerny gryp op die rakke by die toonbank.
- Die ander B-vloekwoord: B E P L A N jou inkopies en jou maaltye. Wat het jy in die vrieskas of die koskas? As jy net links en regs die trollies pak, gaan jy waarskynlik more weer moet winkel toe omdat jy iets kort. En oormore weer. En die dag daarna. As dit bietjie oorweldigend klink om van geen beplanning na weeklikse beplanning toe te gaan, probeer om jou maaltye en lysies op te stel vir drie/vier dae op ‘n slag. Inperking is ‘n ideale tyd om hierdie te oefen om so min as moontlik in die winkels te wees. Ek kan ‘n hele artikel skryf net oor wenke vir doeltreffende maaltydbeplanning! Kyk uit vir hom.
- BYOB – Bring your own bag. Jy doen dan sommer jou deel vir Moeder Aarde ook.
- Maak gebruik van winkels se rewards-programme. Suid-Afrika is lief vir hierdie, en met goeie rede! Onmiddelike besparings en punte vir later; jy hoef nie eers die kaarte by jou te dra met die StoCard app Selfs kontant terug met sekere puntestelsels by mediese fondse. Jy gaan in elk geval geld spandeer, jy kan netsowel gebruik maak van die.
- Proe die generiese chutney regtig soveel anders as die fancy schmancy handelsmerke as jy dit in kos gebruik?
- Moet nie in grootmaat koop nie – okay, hierdie is gerig om daardie mense wat dit oordoen. Net omdat die 10 liter mayonnaise op ‘n spesiale aanbieding is, beteken nie jy moet dit koop tensy jy beplan om vir ‘n 100+ mense aartappelslaai te maak binnekort nie. Dit is nou en dan goedkoper om in grootmaat aan te koop, maar nie altyd nie. Dink prakties, aan jou onmiddelike begroting en die koste per eenheid.
- Kyk na uitverkopings. Dit is goed om te beplan, maar as daar ‘n helse winskopie is en jy eerder ‘n ekstra R30 kan spaar op daardie manier, doen dit. R30 is byna 2 biere meer in Thailand. Skryf jou beplanning in potlood en gee aan die uitverkopings die pen.
- Vergelyk pryse. Dit neem jou minder as 30 sekondes om net gou te scan deur die pryse vir die goedkoopste produk. Hoekom dan nou dubbel betaal vir die 6 eiers as wat jy hoef?
- Probeer Meatless Monday. Ek weet, dis nie ‘n ete tensy daar vleis is nie is baie van ons se oortuiging, maar jy sal oorleef en dit sny baie op die week se uitgawes. Probeer om aanvanklik ‘n ete rondom spek of biltong te maak, sodat vleis nie jou hoofbestandeel is nie. Etes soos gevulde aartappels en slaai of ‘n tamatie-pasta werk perfek!
- KEN JOU PRYSE. Weet jy hoeveel keer flous winkels jou deur net te sê iets het ‘n spesiale prys en dan vang hulle jou omdat jy nie die gewone prys ken nie?
- Koop peuselhappies vir die week en gebruik sommer oorskiet vir middagete – sodat jy nie op die ingewing van die oomblik winkel toe gaan en die begroting breek agter lus aan nie.
- En om hemelsnaam, rasper jou eie kaas!
As jy net een van die wenke gaan gebruik, maak dit ‘n goeie een en begin beplan. Begin net iewers en werk daarmee. Daar is nog honderde sulke wenke, maar dis goed om eers die fondament te lê as om jouself in ‘n posisie te plaas wat jy oorweldig voel en faal nog voordat jy begin het.
Kliek hier vir ‘n paar van die week se beste pryse volgens ons (en hier vir die winkels se blaadjies: Checkers, Woolworths en PicknPay).
Daarsy! Ek hoop jy kry sommer baie gespaar met jou volgende uitstappie winkels toe.
Spandeer slim; spaar baie!
Oor & uit.