7 wenke om die regte skuldberader te kies

7 wenke om die regte skuldberader te kies

Haai liewe leser

Wanneer dit kom by enige situasie wat geld behels, is dit belangrik om seker te maak jy kies die regte mense om te vertrou. Dit geld vir beleggings, lenings, banke en skuldberaders. Die wêreld is propvol wolwe in skaapsklere wat soetpraatjies verkoop oor hoe jy vinnig uit die moeilikheid kan kom, of skatryk gaan word sonder om ‘n vinger te lig. Die goue reël is: “As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik.”

Indien jy jouself in die situasie bevind dat jy ‘n skuldberader moet kies, wil jy beslis nie ‘n voetfout maak net soos jy amper die smaak van (skuld)vryheid op jou tong het nie.

Hier is ‘n paar wenke oor hoe om die regte skuldberader te kies:

1.       Die skuldberader moet geregistreer wees by die National Credit Regulator (NCR).

2.       Die skuldberader moet bevoeg wees om vir jou ordentlik te verduidelik hoe die proses werk en vir jou enige nuwe veranderinge in wetgewing kan kommunikeer.

3.       Hulle moet jou persoonlike en finansiële inligting beskerm.

4.       Skuldberaders se fooie word deur die NCR reguleer en jy kan voordat die proses begin vra oor hulle fooistruktuur om seker te maak jy word nie gefnuik nie en dis in lyn met die regulasies. Dis dalk ook ‘n goeie idee om meer as een plek se fooie te kry en ‘n vergelyking te maak.

5.       Hulle is beskikbaar om enige van jou vrae te beantwoord of situasies te hanteer soos hulle opduik.

6.       Hulle maak gebruik van ‘n wettige betalings agentskap. Die skuldberader mag nie jou krediteure direk betaal nie, en moet gebruik maak van ‘n geregistreerde PDA (Payment Distribution Agency). Hierdie is om seker te maak dat jou geld veilig gehou word en op die regte manier versprei word.

7.       Hulle het ‘n goeie naam – hierdie is maklik om te bevestig wanneer jy hulle bietjie gaan navors aanlyn en lees oor ander mense se ervarings met die betrokke skuldberaders.

Onthou, wanneer mens onder geweldige finansiële druk is en begin desperaat raak, is mens geneig om nie helder te dink wanneer jy kies wie jy gaan vertrou nie. Staan vir ‘n oomblik terug, haal diep asem en maak die regte besluit.

Oor en uit.