9 wenke vir jou finansies gedurende ‘n krisis

9 Goed om te onthou rakend jou finansies gedurende ‘n krisis

Haai! Ons is in scary tye. Niemand kan voorspel waarheen is ons oppad nie. Ek het beslis nie gedink ek gaan sommer so met krisispraatjies moet afskop nie. Voorbereiding vir ressessies ja, maar eers later. Ek wou darem eers myself ordentlik voorstel en julle leer ken. Maar hier is ons nou – in ongekende tye en in stormagtige waters. Die markte en die wêreld is in chaos.

Ons praat van twee ‘swart swaan’-gebeurtenisse wat plaasgevind het in die mark tot dusver in 2020. ‘n ‘Swart swaan’-gebeurtenis is een wat as ‘n verrassing plaasvind en ‘n wesenlike effek het. Die effek word dikwels veroorsaak deur die irrasionele besluite wat geneem word in ‘veg of vlug’-oomblikke. Dié twee swart swane van 2020 is die viruskrisis en die ineenstorting van die olieprys. Hierdie is egter nie ‘n ekonomiese nuusflits nie, so kom ons gesels eerder oor jou finansies gedurende ‘n krisis.

Ons is nou reeds in die krisis. Dit sou goed wees om voor te bereid te wees, maar daarvoor is dit nou egter te laat. Ons sal op ‘n later stadium gesels oor hoe om jouself ten alle tye voor te bereid te hê vir krisisse en noodgevalle. Ons kan nou damage control en die beste maak van ‘n slegte saak.

So hier is  dinge om in gedagte te hou of toe te pas gedurende ‘n krisis:

  1. Slaap eers op jou besluite

Wanneer ons in veg-of-vlug fase in beweeg, dink ons nie rasioneel nie. Hierdie kon onder andere waargeneem word in die winkels in die weke voor afsondering, en in die algemene paniek wat die markte oorrompel het. Dit is dus belangrik om nie haastig besluite oor jou finansies te neem nie, hetsy direk of indirek. Actually, hierdie is eintlik ‘n goeie reël vir altyd. Slaap eers op besluite wat jou finansies gaan beïnvloed.

  1. Noodgedwonge breek van sosiaal verkeer

In donker tye is dit ‘n goeie idee om eers te soek vir die silwer randjie wat iewers skuil voordat jy al die onsekerhede aanpak. En dit sal in hierdie geval wees: minder spandeer! Jy is gedwing om in jou huis te bly, dus geen brandy specials, minimale petrol verbruik, geen wegneemkoffies, uber of fliek nie.

  1. Spaar

Gebruik die afname in geld spandeer tot jou voordeel: S P A A R ! Spaar soveel as wat jy kan. Bou ‘n noodfonds op – in tye soos die besef mens net presies hoe nodig ‘n fonds is vir noodgevalle sodat dit nie ekstra stremming op jou finansies plaas nie. Spaar ook die geld wat jy op verligting ook kry nou – byvoorbeeld gimnasiumfooie soos wat Virgin Active en Planet Fitness vir hulle lede vrystelling gebied het gedurende April. Dit gaan glad nie help om al jou ekstra geld skielik uit te gee op onnodige goed wanneer jy die kans kry om inkopies te gaan doen nie.

  1. Passop vir wolve & wolhaarstories

Wees versigtig vir scams! In krisistye raak mense desperaat vir geld en die scammers weet dit. Die oeroue reël geld: as iets te goed klink om waar te wees, is dit heel moontlik. Navors dinge eers deeglik voordat jy kop eerste daar in neuk en na die tyd in sak en as sit en kwaad is dat mense jou ‘n rat voor die oë gedraai het.

  1. Live below your means

Gebruik minder geld as wat jy beskikbaar het, veral omdat daar soveel onsekerheid bestaan rondom die ekonomie, jou inkomste en wanneer die wêreld sal terugkeer na normaal toe. Dis ‘n ideale tyd om te kyk op hoe min jy werklik kan oorleef en te probeer om die hoeveelheid kos wat jy weggooi omdat dit sleg raak te probeer verminder.  

  1. Sit vas in jou beleggings

Moet nie eers daaraan dink om uit jou beleggings uit te vlug nie. As jy glo jy het ‘n goeie langtermyn strategie, bly net waar jy is. Die markte gaan herstel en het alreeds heelwat verbeter!

  1. Beplan

Nou meer as ooit – beplan jou etes en die inkopielys noukeurig. Mens is so geneig om oorweldig te wees met die vooruitsig om darem weer ander mense te sien en te kan bestuur, dat jy net koop wat jy in die hande kry.

  1. Brainstorm vir ekstra inkomste

Nou is die perfekte tyd om te beplan aan daardie stokperdjie wat jy nou al jare lank dreig om ‘n besigheid te maak.

  1. Bly kalm.

Watokal jy doen, bly kalm. Dit gaan verby gaan. Dit gaan jou niks baat om paniekerig te raak oor die dinge waaroor jy geen beheer het nie. Haal diep asem en fokus op die dinge waaroor jy beheer het.

 

Ek hoop hierdie wenke help jou om aan die stuur van sake te bly (of te kom) gedurende hierdie storm.

 

“Never let a good crisis go to waste.” – Winston Churchill

 

Oor en uit.