Ag f*k- en donderstormfondse

Noodfondse. Of soos ek dit gedoop het: ag f*k- en donderstormfondse. Hierdie is een van die belangrikste boustene van die pad na finansiële vryheid wat jy vir jouself kan neem.

Het jy geweet dat 40% van Amerikaners nie ‘n $400 onverwagse uitgawe sal kan dek sonder om skuld te maak of ander betalings te moet skiep nie? Suid-Afrikaners is bekend as mense met verskriklike swak spaargewoontes. Dié lyk dus heel moontlik nóg slegter by ons. Kom ons maak dit minder as $400; as jou kar onverwags breek en dit kos R5 000 om reg te maak – sal jy dit kan betaal sonder om skuld te maak? Gaan jy die aand reik na die wynbottel uit pure moedeloosheid uit?

Ongeveer 1 uit 5 Suid-Afrikaners sal 3 maande kan oorleef sonder ‘n salaris as hulle onverwags nie meer een kry nie. Is jy een van hulle? Ons sit midde ‘n krisis waar dit die realiteit van talle mense is; mense na aan jou. Sou jy die 1 uit 5 wees?

Mens het 2 tipes sulke fondse nodig: ‘n ag f*k-fonds en ‘n donderstormfonds. Die verskil en detail rondom hierdie twee fondse wat jy behoort te hê is soos volg:

  • ‘n Ag f*k-fonds

Wat is dit? Dis vir daardie gebeure wat jou net laat sug, bietjie huil oor jou stuurwiel voor jy in gaan huis toe en uit skree: “Ag f*k!”. Hierdie is vir werklike noodgevalle en onverwagse uitgawes, soos as jou kar breek, die yskas pak onverwags op, mediese onkostes of vervoerkoste na geliefdes toe indien daar ‘n krisis opduik. Dit is nié vir daardie maande waar jy bietjie te veel spandeer op inkopies, jouself bederf met klere, ‘n nuwe foon soek (nie nodig het nie) of ‘n ‘n brandy special te veel gedrink het nie.  Sodra enige geld uit die fonds gebruik is, moet jou eerste prioriteit wees om die geld weer terug daarin te sit.

Hoeveel geld moet daar in jou ag f*k-fonds wees? Doen ondersoek en vind uit wat is die waarde van jou duurste item wat ‘n noodgeval gaan bied indien dit onverwags breek. Mik daarvoor om ‘n bedrag in die rekening te hou wat dit sal kan vervang. As dit byvoorbeeld jou skootrekenaar is, spaar genoeg om hom te kan vervang. Dit kan partykeer onmoontlik voel as jy die bedrag eers bepaal, maar begin deur te mik vir R500 en dan ‘n R1000, en dan meer. Klein tree is die sleutel tot sukses.

Waar moet jy die geld spaar? Verkieslik in ‘n rekening wat onmiddelik toegang bied vir wanneer die noodgeval opduik en verkieslik ‘n rentekoers verdien gelykstaande aan inflasie. Loer uit vir ‘n volgende artikel oor die rekeninge in Suid-Afrika wat die beste rentekoerse bied.

  • Donderstormfonds

Wat is dit? Hierdie is vir tye waarin jy vir ‘n ruk van die fonds af moet lewe. Voorbeelde van sulke tye is soos inperkings wat jou verhoed om te werk en dalk jou salaris sny, afdankings of enige ander gebeure wat lei na ‘n verlies van ‘n gedeelte of jou hele inkomste.

Hoeveel geld moet daar in die donderstormfonds wees? Die voorstel is om 3-6 maande se leefkoste hierin te hou vir die tye waarop ‘n donderstorm op jou neersak en jy nie net die ag f*k sug doen nie, maar deur die storm moet oorleef.

Waar moet jy die geld spaar? Hierdie fonds kan gehou word in ‘n rekening wat bietjie hoër groei bied as die ag f*k-fonds en dalk ‘n kennisgewing nodig het voordat jy toegang verkry tot die geld. Daar bestaan rekeninge waarin jy net 24 uur kennis hoef te gee en ander met 7 of 14 dae; selfs meer.

Ek weet dit klink scary en dit klink soos baie geld. As dit nie scary geklink het nie, sou dit nie soveel die moeite werd wees nie. Dis juis hierom dat dit vir jou vryheid bied. Begin met ‘n ag f*k-fonds, fokus dan daarop om jou skuld af te betaal en te begin bou aan ‘n donderstormfonds. Begin net.  Al is dit met R10 elke dag. Of skiep elke tweede wegneemkoffie. Gewoontes kan net gewoontes raak as jy actually iewers begin.

 

Vryheid is om nie iets of iemand se slaaf te wees nie. Moet nie ingeperk word of beheer word deur skuld nie.