As dit te goed klink om waar te wees, veral in finansies…

As dit te goed klink om waar te wees, veral in finansies…

dan ís dit heel moontlik te goed om waar te wees. Lees daardie weer. En voordat jy R200 in ‘n Whatsapp ‘stokvel’ verloor in ruil vir ‘n beloofde R1200 dan lees jy dit nog tien keer en gaan bêre jou geld – selfs onder jou matras is veiliger as om in ‘n slenter gevang te word. [Terloops, die Nasionale Stokvel Assosiasie van Suid-Afrika het ‘n waarskuwing spesifiek teen hierdie lokval uitgereik – ja daar is so assosiasie, ek het ook nie geweet nie.]

Ons is nie in die maklikste ekonomiese omstandighede op die oomblik nie. Mense is desperaat vir ekstra geld en dié wat die swakstes in ons gemeenskap probeer vang, gaan veral nou hulle soetkoekpraatjies ekstra hard probeer verkoop. As dit só eenvoudig was om geld te maak, sou almal dit doen – onthou dit. Passop vir al die verneuk- en bedrogspulle.

‘Dire circumstances let the fraudsters and pyramid schemers come out to play.’

Daar is waarde daarin om jou geldsake te bestuur volgens professionele mense se opinies en raad. Indien iets te goed klink om waar te wees, en soos ‘n scam klink – doen asseblief jou huiswerk. Jy het hard gewerk vir jou geld – wil jy dit werklik net in iemand se skelm kloue laat verdwyn binne sekondes?

Ja, daar is sommige mense wat geld gemaak het met die R200 vir R1200 Whatsapp affêre, maar almal kan nie en almal gaan nie. Dink net gou logies na hieroor: die ‘stokvel’ belowe dat as jy R200 betaal jou naam 6de op ‘n lys kom. Soos nuwe mense hulle R200 betaal, beweeg jy op en wanneer jy by nommer 1 kom dan ontvang jy R1200. As daar nou nie meer nuwe mense in kom nie, gaan die laaste 5 mense op die lys net mooi niks ontvang nie en hulle R200 kwyt wees. Soos ‘n tipiese piramiede skema gaan die eerste paar mense lekker geld maak, en die agterosse wat ook skielik die wa wil klim gaan sleg tweede kom.

Ek gebruik die Whatsapp-stokvel slegs as ‘n voorbeeld, en waarsku jou eintlik teen allerhande sulke verneukspulle wat daar buite wag om jou te vang. Enige ‘word ryk vinnig’ en ‘verdubbel jou geld’ beloftes is gewoonlik ‘n waarskuwingsteken. Daar is ook op die oomblik talle valse e-posse wat dit laat lyk asof hulle van jou bank af kom.

Hier is nog waarskuwingstekens:

  1. ‘n Aansluitingsfooi wat beloof word om sommer vinnig terug gemaak te word uit die winste uit.
  2. Die verpligting om ander mense ook te moet oortuig om dieselfde te doen sodat jy meer geld kan maak aka ‘recruitment’.
  3. Wees skepties oor suksesstories – dis nie noodwendig elke persoon se ervaring nie en slegs die uitskieters.
  4. Winste of groeikoerse is heeltemal te hoog.
  5. Daar is bitter min papierwerk.
  6. Die groei of winste is gewaarborg.
  7. Die beleggingsmetodes word nie verduidelik nie.
  8. Die besigheid is nie geregistreer om te doen wat hulle doen nie.
  9. As hulle eers begin met ‘a hot tip’ of ‘insider information’, en baie druk op jou plaas om onmiddelik in te koop.
  10. Die aanlynresensies vertel ‘n ander storie.

Navors. Lees. Vra uit. Kennis is mag. Kontak ons indien jy onseker is oor sulke beloftes wat oor jou pad kom en ons kan dalk help om agter die kap van die byl te kom.

Oor en uit.