Begroot is badass

Begroot is badass

  • Het jy gewoonlik meer maand as geld?
  • Raak jy skoon benoud as iemand net begin praat oor vakansies, kersfees en inkopies?
  • Wil jy óók jou instagram oorlaai met foto’s van eksotiese vakansies, jou eerste huis of sommer net daardie televisie waarna jy al so lank smag om Saterdae se rugby en braai te verbeter?
  • Loer daardie lening oor jou skouer en gee jou hartkloppings?

Die B-vloekwoord wat soveel keer assosieer word met negatiewe dinge soos minder pret, minder bederf en heeltemal te min wegneem cappuccinos by Seattle Coffee company is die oplossing. Ek weet jy wil dit nie hoor nie, maar B E G R O O T het eintlik meer voordele as nadele, mens moet net soms jou perspektief verander. Begroot hoef nie moeilik óf boring te wees nie! Vryheid, veral finansieel, proe beslis na nóg. So haal asem en besef dat begroot en beplan badass is.

Afhangend van waar jy lees of luister, sal jy moontlik ‘n 100 verskillende wenresepte kry om jou eerste begroting op te stel, maar ek het die leeswerk namens jou gaan doen. Die feit dat jy tot hier gelees het, beteken jy het reeds die eerste stap geneem en begin. Ek gaan nog talle videos, gidse, templates (wat terloops ‘sjablone’ is in Afrikaans – hoe cool!), uitdagings en artikels plaas om jou hiermee te help in die toekoms, maar hier is ‘n riglyn vir die pad vorentoe:

  1. Figure uit waarheen op dees Aarde verdwyn jou geld. Gaan sit en doen die huiswerk – jy sal die vrugte pluk (of die rente verdien).
  2. Stel vas wat is jou uitgawes en watter tipe uitgawes is dit. Het jy dit werklik nodig of vertel jy net vir jouself jy het dit nodig?
  3. Ontwerp ‘n begroting wat jou en jou lewe pas!
  4. Wees realisties en geduldig. Net soos onmoontlike diëte gaan jy nie hier by kan hou tensy dit realisties haalbaar is nie. Rome is nie in ‘n dag gebou nie, en ek belowe jou eerste miljoen ook nie.
  5. Toepas, aanpas en toepas.

Daar is verskeie metodes wat mens kan gebruik in die ontwerp van jou begroting. In dié gratis gids is ‘n basiese riglyn en raak ek aan sekere van hierdie punte. Jy kan ook ‘n Excel sjabloon hier kry. Daar is talle apps wat jy ook kan gebruik wat ek in ‘n latere artikel vir jou sal gaan uittoets en terugvoer gee, maar een wat ek nou kan voorstel is ‘22seven’. Ek persoonlik verkies ‘n spreadsheet, want dit gee vir my meer beheer en buigbaarheid.

Onthou, ons almal se lewens en prioriteite verskil, so gebruik hierdie net as ‘n beginpunt en maak dit jou eie.  

Loer uit vir die volgende artikels oor 2 metodes wat jy kan gebruik wanneer jy jou begroting ontwerp – gebruik die tyd intussen om jou uitgawes te inspekteer van nader. 

Ja, jy is reg, gaan kook solank die ketel. Hierdie is een van daardie tipe aktiwiteite. Gebruik inperking tot jou voordeel en sort jou lewe uit terwyl die ‘drinks na werk’ gekanselleer is!

Oor en uit.