Sneeuballe & skuld

Skuld – ek weet, nie iets waaroor ons graag gesels nie. Dit hoef egter nie so groot las op jou balansstaat of skouers te wees as jy skouer aan die wiel sit en dit een vir een uit jou lewe verwyder nie. Die wyse Albert Einstein het blykbaar gesê:

“Compound interest is the eighth wonder of the world. He who understands it, earns it and he who doesn’t, pays it.”

Het jy al uitgewerk hoeveel word aan rente spandeer op lenings en op huurkoop wanneer jy 

gaan kyk hoeveel geld jy eintlik op die ou einde van die dag terug betaal teenoor wat dit gekos het?

Ou Albert was nie verkeerd nie. Suid-Afrikaners het ongelooflik baie skuld en ongelukkig is daar baie plekke in die mark wat jou met ‘n slenter vang of sommer vir jou skuld gee sonder dat jy dit enigsins kan bekostig – maar op daardie oomblik soek jy dit en dikwels is dit nie eers noodsaaklik nie. My Oupa het altyd gesê: “‘n geleentheid is net ‘n geleentheid as jy reg is vir hom, anders is dit bloot ‘n versoeking”. Millenniërs het ook op gemiddeld, wêreldwyd, meer skuld as ander generasies omdat studieskuld so groot gedeelte van ons balansstate opmaak.

Twee bekende strategieë om suksesvol ‘n pad na vryheid van skuld te vind is die sneeubaleffek en die stortvloedeffek (‘avalanche’ in Engels).

Die sneeubaleffek

Die sneeubaleffek om ontslae te raak van al jou skuld is ‘n eenvoudige strategie wat gebaseer word op die krag van momentum, en werk soos volg:

  1. Jy betaal steeds jou minimum premie op al jou lenings en bronne van skuld.
  2. Jy kies dan die een met die laagste uitstaande balans en probeer enige ekstra fondse gebruik om dit af te betaal.
  3. Wanneer die kleinste lening afbetaal is, begin jy met die tweede kleinste een.
  4. So raak jy een vir een al jou bronne van skuld ontslae totdat jy skuldvry is en niemand oor jou skouer loer nie.

Die stortvloedeffek

Die stortvloedeffek gaan effens meer huiswerk van jou kant af verg, maar gaan jou aansienlik meer geld spaar in rente. Hierdie metode werk soos volg:

  1. Jy betaal steeds jou minimum premie op al jou lenings en bronne van skuld.
  2. Jy vind uit wat die rentekoers is op elke lening en rangskik hulle van hoog na laag.
  3. Jy neem dan enige ekstra beskikbare fondse om die balans met die hoogste rentekoers af te betaal.
  4. Wanneer hierdie lening afgelos is, begin jy by die tweede hoogste rentekoers.
  5. So verwyder jy een vir een al jou bronne van skuld en spaar die maksimum hoeveelheid rente tussen die twee metodes.

Om ontslae te raak van skuld is ‘n groot stap tot finansiële vryheid wat jou soveel meer geleentheid vir keuses en vryheid bied in jou lewe. Jy kan ekstra fondse in jou begroting vind deur te spaar op inkopies, ordentlik te begroot, sakpas burgeraande of van die lekker GRATIS sjablone by ons nuttige materiaal gebruik te maak. 

Onthou, finansiële vryheid gaan nie oor geld nie, dit gaan daaroor om jou beste moontlike lewe te kan lewe.

Oor en uit.