Is jý finansieel geletterd? Vind uit in net 15 vrae!

Is jý finansieel geletterd? Vind uit in net 15 vrae!

Haai! Welkom by my eerste artikel vir ‘Bank beter met Lindie’. Ek het dit begin om jou en soveel ander in jou posisie se finansiële geletterdheid te verbeter in ‘n lekker geselskap atmosfeer soos oor ‘n koffie, sodat dit nie voel asof jy leer terwyl jy leer nie. Life hack 101. (Ja , dit is koffie in my beker en nie wyn nie. Nog nie.)

Maar wat presies is finansiële geletterdheid? Finansiële geletterdheid word kortliks beskryf as die vermoë om behoorlik finansiële beplanning vaardighede te verstaan en toe te pas. Dit bestaan uit ‘n klomp verskillende onderwerpe soos begroot, spaar, skuld bestuur en behoorlike beplanning vir jou oudag. 

Slegs 1 uit 3 mense wêreldwyd word as finansieel geletterd beskou volgens navorsing in 2019[1] en selfs so min as 16% van millenniërs in sekere navorsing. As mens dit so stel, klink dit erger: As daar ongeveer 6 mense by ‘n braai sit, beskik slegs 1 oor basiese finansiële kennis tussen die 20-iets mense en 2 van hulle as jy na alle ouderdomme kyk. Statistiek wys ook dat mans beter vaar in die veld as vrouens.

Snaaks genoeg, is mense wat tussen 1980 en middel 90’s gebore (verwys na millenniërs at a lack of a better word) is beter ingelig en hoër gekwalifiseerd as dié voor hulle, tog wys hulle laer finansiële geletterdheid – wat nie veel help aangaande die feit dat hulle hope meer skuld het as vorige generasies nie.  Is dit vir jou belangrik om jou finansiële kennis en verstaan van jou geldsake te verbeter? Vra jouself die volgende vrae af:

  • Wil jy eendag van ‘n staatstoelaag of familie afhanklik wees?
  • Wil jy elke maand van salaris tot salaris lewe vir die res van jou lewe?
  • Wil jy dagdroom oor eksotiese vakansies met die wete dat dit nooit sal gebeur nie?
  • Wil jy eendag vir jou kinders se studies kan betaal?
  • Wil jy in ‘n slenter gevang word en uit duisende rande verneuk word omdat jy nie besef wat mense met jou geld doen nie?

So ek vra weer: Is dit vir jou belangrik om jou finansiële kennis en verstaan van jou geldsake te verbeter?

Dit is al menigmaal bewys dat finansiële kennis die verlore skakel is wat jy nodig het om finansiële vryheid te bereik – wat ook behels dat jou drome omgeskakel kan word in haalbare doelwitte (so minder dagdroom oor daardie vakansie en meer vliegtuigkaartjies bespreek). Ek het met behulp van betroubare bronne[2] vir jou ‘n Afrikaans toets saam gestel van net 15 vrae om te sien wat jou finansiële geletterdheid rofweg is. Die wêreldwye gemiddeld vir die toets is maar ‘n skamele 33.33%, terwyl die milleniale slegs 24% kon kry. Hoe vaar jy? Druk net op die skakel:

https://forms.gle/QYV4yweCh7rEz3ne8

Daarsy – nou weet jy hoekom finansiële geletterdheid en wat die behoefte is in die samelewing.

Niemand sal ooit alles weet nie, maar dis goed om elke dag iets nuut te probeer leer. Jy kan dit netsowel iets maak wat kwaliteit van lewe kan verbeter. Onthou dat kennis en opvoeding rondom die bestuur van geld nie altyd ernstige lesings en boring mense wat bo-oor jou kop praat hoef te wees nie, dit kan so maklik soos ‘n vinnige gesprek oor ‘n cappuccino wees.

Om jou so suksesvol as moontlik te help baas raak oor jou geldsake – stuur enige tyd jou kritiek of kommentaar of versoeke vir artikels/videos op die ‘Kontak ons’ blad.

Oor en uit.

Lindie

 

 

[1] Ashaari, N. N. B., & Yusof, Z. B. M. (2019). Relationship between Financial Literacy and Its Component: A Research on Working Women. Asian Journal of Probability and Statistics, 1-6.

[2] Lusardi, A., & Mitchell, O. S. (2011). Financial literacy around the world: an overview. Journal of pension economics & finance10(4), 497-508.

https://www.businessinsider.com/not-all-millennials-are-financially-literate-pass-this-test-2019-4?IR=T

https://gflec.org/education/questions-that-indicate-financial-literacy/