Jou testament: liefdesbrief of lasbrief?

Liewe leser,

Dink vir ’n oomblik hieraan. Wil jy hê die staat moet besluit wie wat kry wanneer jy eendag nie meer hier is nie. Wil jy hê jou kinders moet in ’n vreemdeling se sorg beland omdat niemand vooraf besluit het nie? Of wil jy jou geliefdes spaar van maande se bakleiery, regskoste en papierwerk bo-op hulle rou?

Meer as sewe uit tien Suid-Afrikaners het geen testament nie. En as jy sonder een sterf, word jou boedel volgens die wet verdeel. Dis ’n koue reëlboek wat geen rekening hou met jou unieke lewe en mense nie. Jou bates kan by iemand beland wat jy laas gesien het toe hulle jou doeke geruil het, of jou kinders moet eers deur hofprosesse gaan voordat ’n voog besluit kan word.

Is jy een van daai DRIE uit tien, wat reeds ‘n testament in plek het?

’n Testament is meer as net ’n dokument oor geld en goed. Dis ’n manier om liefde te wys, om jou mense te beskerm, om seker te maak dat jou laaste asem nie ook hulle swaarste las word nie.

Dinge wat mense dikwels vergeet

Al het jy ’n testament, is daar sekere goed wat maklik vergete raak tussendeur die gejaag van die lewe:

Voogskap vir kinders: Jy wil nie hê ’n regter moet namens jou besluit nie. Dit was oulik toe jy peetouers vra met hulle geboorte, maar het jy dit in skrif?
Troeteldiere: Hulle is deel van die gesin en iemand moet sorg dat hulle versorg word.
Persoonlike erfstukke: Familie juwele, foto’s of bybels kan meer waarde dra as die groot bates.
Digitale bates: Jou sosiale media, e-pos, cloud storage of selfs crypto currencies.
Die regte eksekuteur: Iemand wat jy vertrou eerder as ’n instansie wat bloot wil geld maak.

Maak dit eenvoudig

Om ’n testament op te stel hóéf nie ingewikkeld of duur te wees nie. Daar is dikwels gratis opsies tydens Nasionale Testamente Week, en plekke soos QuickWill maak dit eenvoudig om vir jou ’n wettige testament aanlyn op te stel (Laas wat ek gekyk het, kos dit R375 eenmalig, en kan jy enige tyd later inlog en veranderinge maak).

En vir die res van jou admin. Ek het ’n gratis gids gemaak wat jy kan aflaai: die In geval van ’n noodgeval-template. Dis ’n eenvoudige dokument wat jou help om alles op een plek te hou. Van ID’s en mediese inligting tot jou wagwoorde en troeteldier se veearts. Dis nie net vir jou gemoedsrus nie, maar ook vir jou geliefdes as die onverwagse gebeur.

Laai dit hier gratis af en begin jou lêer bou – vandag nog.

Liewe leser, jy hoef nie ryk of oud of ’n regte egte grootmens te wees om ’n testament te hê nie. Jy hoef net iemand te wees wat liefhet en leef. En as jy liefhet maak jy seker hulle word beskerm selfs wanneer jy nie meer daar is nie.

Oor en uit.