Sinkfondse of magic stres verligters?
Haai!
Vandag gaan ek gesels oor ‘n baie cool manier om groot uitgawes in die toekoms minder scary te laat voel. Ek gebruik hierdie in my eie lewe – en dit werk soos ‘n BOM! Hierdie sal vir jou ook ideaal wees as jy sommer ‘n hol kol op jou maag begin kry as jy net dink aan Kersfees, of aan die feit dat jou printer of bande een of ander tyd vervang moet word. Selfs net groot verjaarsdae of iets groot waarmee jy jouself wil bederf, soos ‘n vakansie. Hulle sê as iets jou jou vrede kos, is dit te duur. En is hierdie nie presies wat gebeur nie? Sal dit nie so lekker wees om in Januarie te kom en nié te voel of dit 9 maande is voor Februarie nie?
Wat is die oplossing? ‘n Sinkfonds! Of soos ek dit sommer wil noem, magic stres verligters. Sinkfondse kan op verskillende maniere gebruik word, maar in die artikel se konteks gaan dit daaroor om jou te help om gemaklik groot uitgawes te dek wat jy weet in die toekoms gaan opduik, byvoorbeeld Kersfees, vakansie, verjaarsdae, bande, ensovoorts.
Wat gaan jy nodig hê? Selfdissipline en ‘n spaarrekening wat nie jou normale gebruik rekening is nie.
Hoe werk dit? Jy gaan elke maand geld eenkant sit sodat wanneer die groot uitgawe wat aan jou senuwees knaag soos dit nader kom, gemaklik betaal kan word sonder dat jy vir een maand nie kan eet nie.
Byvoorbeeld: As jou groot bekommernis Desembermaand is, dan is dit goed om uit te werk hoeveel geld jy reg wil hê spesifiek daarvoor byvoorbeeld R6 000. Is dit maklik om skielik R6 000 te moet uithaal in een maand? Vir seker nie! Is dit makliker om R500 te vind elke maand om jou vrede te bewaar in Desember? Natuurlik. Jy sit dan elke maand jou R500 in hierdie bankrekening wat spesiaal daarvoor bedoel is, en wanneer Desember kom, VOILA! Jy hoef nie te wonder hoe die geskenke gekoop word en die familie gevoed word nie.
As jy meer as een sulke uitgawe per jaar het, tel net almal bymekaar en deel die bedrag deur 12 of die hoeveelheid maande voordat die uitgawe betaal moet word.
Byvoorbeeld: Jy weet jou bande moet oor ‘n jaar vervang word, jy wil vir iemand spesiaal ‘n groot geskenk koop hierdie jaar en jy wil nie die jaar jou hele Desemberbonus spandeer op Januarie se oorleefkoste nie so jy besluit om ‘n sinkfonds vir al hierdie uitgawes te begin. Die voorbeeld is spesifiek gerig op ‘n 1 jaar-tydperk.
- Jou bande gaan jou R3 000 kos om te vervang
- Die begroting vir die geskenk is R2 500
- Januarie se oorleefkoste is R3 500
- Die total is: R9 000
- R9 000 gedeel deur 12 maande is: R750.
- Jy sit elke maand R750 weg en wanneer hierdie 3 uitgawes oor jou pad kom, hoef jy nie slaap te verloor oor die betaling daarvan nie.
Ek weet ons is nou in Julie, maar dis nooit te laat om te begin nie. As jy hierdie maand al begin, kan jy nog steeds ‘n groot gedeelte van daardie rekening in Desember alreeds begin spaar en dan volstoom begin in Januarie vir die volgende jaar! Sodra jy dit dan onder die knie het, kan jy jou droomvakansie begin finansier in maandelikse bedrae.
Daarsy. So maklik soos dit. As jy hierdie strategie natuurlik kombineer met jou ‘Ag fok’- en donderstormfondse, is jy al soveel nader aan finansiële vryheid!
Kontak ons gerus vir enige vrae of onsekerhede oor enige iets en alles F I N A N S I E S! Bank beter, spaar beter, slaap beter.
Oor en uit.