Skuldkonsolidasie, administrasie en sekwestrasie

Haai liewe leser

In ‘n vorige artikel het ons genoem dat daar vier hoofmetodes is om oormatige skuld te hanteer, naamlik: skuldberading/hersiening, skuldkonsolidasie, administrasie en sekwestrasie. Hier is net weer ‘n herinnering oor wat alles in Afrikaans is:

Ons reeds die verskil tussen skuldberading/hersiening en skuldinvordering bespreek en gaan die keer kyk wat presies die ander drie metodes behels.

Dit is belangrik om te onthou dat jy jou naam weer skoon kan kry met genoeg selfdissipline en die regte hulp. Swartlys/blacklist hoef nie einde van jou lewe te wees nie, al voel dit so.

Wat is skuldkonsolidasie ?

Dit is wanneer jy een gróót lening uitneem om al jou skuld af te betaal en dan eerder net een paaiement hoef te betaal elke maand. Anders as skuldberading/hersiening, spreek hierdie metode ongelukkig nie die slegte gewoonte aan nie en kan jy moontlik net weer in ‘n put van slegte skuld beland wanneer hierdie afbetaal is.

Jy sou al in jou lewe gehoor het dat mens nie skuld gebruik om skuld te betaal nie, maar desperaatheid laat mense vreemde dinge doen. Hierdie sal net sin maak indien die rentekoers op die nuwe lening laer is as die geweegde gemiddelde rentekoers wat jy huidiglik betaal op al die verskillende skuld.

Dit is baie belangrik om steeds te gaan werk aan jou verhouding met skuld, sodat hierdie nie net ‘n tydelike fix is vir die probleem nie.

Wat is administrasie?

Hierdie is wanneer ‘n skuldadministrateur aangestel word om beheer oor jou inkomste te verkry. Hulle sal na jou inkomste kyk en vir jou ‘n gedeelte oormerk om elke maand te mag gebruik vir jou leefkoste, maar die res word gehou om jou skuld af te betaal. Die betalings word elke 3 maande aan jou krediteure oor betaal en neem dus heelwat langer as aanvanklik ooreengekom.

Die administrateurs beding namens jou met jou krediteure ‘n nuwe ooreenkoms vir verlaagde rente en paaiemente, om die betalings in kleiner happies op te deel.

Die krediteure mag nie agter jou aankom terwyl jy onder administrasie is nie en aan die einde van die proses sal jy ‘n klaringsertifikaat (clearance certificate) ontvang om jou naam weer oral skoon te kry en jou kredietwaardigheid te herstel.

Hierdie word huidiglik net toegelaat vir mense met minder as R50 000 se onversekerde skuld (unsecured debt).

Wat is sekwestrasie?

Hierdie is gewoonlik die heel laaste oplossing om met te veel skuld te deal, wat jy eintlik sover moontlik wil probeer vermy. Dit is ‘n ingewikkelde proses en baie keer nie die antwoord nie, alhoewel dit soms soos die makliker uitweg klink wanneer jy moedeloos is.

Dit is wanneer jou skuldsituasie so oorweldig is, dat jy as bankrot verklaar word. Iemand sal deur die hof aangestel word om jou skuld terugbetalings te hanteer, en jou bates sal verkoop word om dit te finansier. Jy mag ook vir tot vyf jaar hierna nie weer aansoek doen vir enige skuld nie, tensy ‘n hof dit vroeër al toelaat.

Daarsy. Van skuldberading, tot sekwestrasie is ‘n mondvol, maar dit kan jou lewe redelik onplesierig maak as jy nie daardie slegte verhouding met skuld aanspreek nie. Die positiewe nuus is dat dit alles binne jou hande is en jy beslis weer die lig sal sien met die regte keuses.

Indien jy enige vrae het, voel vry om ons te kontak.

Oor en uit.