Ek is seker jy is al verskeie kere in jou lewe gevra hoekom doen jy iets, of wat is jou dryfkrag. Hoekom? Want sonder ‘n doel/doelwit/rede agter iets, verloor ons maklik koers wanneer dinge moeilik raak. Wanneer ons soms moet uitmis op die nou en onsself herinner dat ons toekomstige self ons sal bedank vir die huidige dissipline in finansies, dan raak dit belangrik. Jou geduld gáán getoets word op die pad na finansiële vryheid, ek belowe jou. Soos die oeroue cliché maar is: niks wat die moeite werd is, kom sommer maklik nie.
Ek daag jou uit: skryf neer of dink en verwoord jou ‘why’.
Hoekom streef jy na finansiële vryheid? Wat dryf jou om vol te hou wanneer dit moeilik raak? Jou antwoord is uniek aan jou, en jou rede mag dalk anders lyk as dié van iemand anders.
Interessant genoeg het navorsing bewys dat mense 42% meer geneig is om hul doelwitte te bereik as hulle dit neerskryf. Deur jou why visueel sigbaar te maak—of dit nou in ‘n joernaal is, op ‘n inspirasiebord of ‘n eenvoudige nota op jou yskas—is jy meer geneig om daaraan te bly werk. Dit maak die abstrakte konkreet en gee jou ‘n tasbare herinnering aan hoekom jy volhou.
Verskilende redes kan insluit:
- Rustige slaap: Die wete dat jy finansieel voorbereid is vir onvoorsiene omstandighede.
- Meer tyd saam met jou gesin: Omdat jy nie meer oortyd hoef te werk net om die maandeindes aanmekaar te laat kom nie.
- Vryheid van skuld: Om nie meer onder die mag van skuld te wees nie en onafhanklikheid te ervaar.
- ‘n Werkende finansiële strategie: Deur die gevoel van vervulling te ervaar wanneer jou geld vir jou begin werk.
- Jou bucket list afmerk: Geld en tyd hê om die dinge te doen wat vir jou saak maak, of dit nou reis, stokperdjies of spesiale ervarings is.
- Meer gee: Die vermoë om by liefdadigheidsdoeleindes betrokke te raak, ander te help, of selfs jouself bietjie meer te bederf.
Wat ook al jou rede is, maak dit vir JOU betekenisvol. Dit moet jou inspireer om aan te hou, selfs wanneer jy moeg voel of wanneer opofferings moeilik raak en jy sukkel om te onthou wat die groter prentjie is.
Hou jou doelwitte in sig
‘n Sterk why is die fondament, maar om daaraan vas te hou, is dit nuttig om jou pad na finansiële vryheid in kleiner doelwitte op te breek. Stel beide kort- en langtermyndoelwitte vir jouself. Dit kan iets eenvoudig wees soos:
- In die korttermyn: Besluit om die maand minder koffies uit te koop en daardie bedrag direk in jou spaarfonds oor te plaas.
- In die langtermyn: Werk daaraan om genoeg geld te hê vir ‘n noodfonds wat 6 maande se lewenskoste dek.
Die geheim is om gereeld jou vordering te monitor en jou strategie aan te pas soos wat jou omstandighede en prioriteite verander. Dit hou jou nie net gemotiveerd nie, maar gee jou ook die selfvertroue dat jy op die regte pad is.
Onthou: dissipline is sterker as motivering met tye
Dis maklik om motivering te verloor as dinge moeilik raak of as die resultate stadig kom. Dit is waar dissipline inkom. Jou why is soos ‘n vuurtjie wat jou inspireer, maar dissipline is die gereedskap wat die vuur brandend hou. Elke klein besluit—soos om ‘n oortollige aankoop te vermy of eerder te spaar as om spandabelrig te wees—bou aan jou groter sukses.
Elke keer wat jy sukkel, herinner jouself aan jou why. Wéét dat jou huidige opofferings jou toekomstige self se gemak en vreugde gaan wees. En as jy ooit twyfel oor die pad vorentoe, vra jouself weer: Hoekom het ek begin?
Hier is ‘n paar aanhalings wat nogal vir my motiverend was:
Kyk rondom jou. Alles rondom jou was op ‘n tyd geld, ongeag of dit joune of iemand anders s’n was. Al daardie geld was eers tyd. Waarvoor is jy besig om jou tyd te verruil?
Oor en uit.




