Wat is jou ‘WHY’?
Ek is seker jy is al verskeie kere in jou lewe gevra hoekom doen jy iets, of wat is jou dryfkrag. Hoekom? Want sonder ‘n doel/doelwit/rede agter iets, verloor ons maklik koers wanneer dinge moeilik raak. Wanneer ons soms moet uitmis op die nou en onsself herinner dat ons toekomstige self ons sal bedank vir die huidige dissipline in finansies, dan raak dit belangrik. Jou geduld gáán getoets word op die pad na finansiële vryheid, ek belowe jou. Soos die oeroue cliché maar is: niks wat die moeite werd is, kom sommer maklik nie.
Ek daag jou uit: skryf neer of dink en verwoord jou ‘why’. Hoekom streef jy na finansiële vryheid? Daar is talle verskillende redes om na te streef en elke persoon s’n mag dalk uniek wees. Verskilende redes kan insluit:
- rustige slaap, omdat jy weet jy sal okay wees as iets more gebeur met jou werk/inkomste;
- meer tyd saam met jou gesin, omdat jy nie noodwendig meer soveel oortyd hoef te werk om die maand;
- deur te sien wanneer jou geld vir jou begin werk nie;
- vryheid van ander se mag oor jou omdat jy vir hulle geld skuld;
- meer dinge op jou bucket list afmerk;
- meer gee aan liefdadigheid of vir jou mense of vir jouself;
- meer geld en tyd om te toer.
Wanneer jy begin sukkel met motivering, herinner jouself aan hoekom jy dit doen. Dit kan ook help om vir jouself kort- en langtermyndoelwitte te stel. Jy kan jaarliks jou vordering monitor en jou strategie evalueer. In die korttermyn kan jou fokus so eenvoudig wees soos om minder koffies te koop die week, of om die maand X bedrag te spaar. Die ding is, as jy nie motivering gaan hê nie, is die kanse baie goed dat jy dit nie gaan behaal nie en sommer nou al kan opgee.
Hier is ‘n paar aanhalings wat nogal vir my motiverend was:
Kyk rondom jou. Alles rondom jou was op ‘n tyd geld, ongeag of dit joune of iemand anders s’n was. Al daardie geld was eers tyd. Waarvoor is jy besig om jou tyd te verruil?