Wat is ‘n effektetrust of unit trust?
Mense praat van die groei op hulle fondse, of hulle beleggings in ‘n unit trust, effektetrust of beleggingsfonds – maar wat is dit presies en hoeveel geld het jy nodig? Dis makliker om goeie besluite te maak rakend jou finansies en beleggings as jy verstaan waarheen jou geld gaan en in wie se bestuur dit gelaat word.
Jy kon reeds aflei dat beleggingsfondse verskeie benamings het – en dit vorm deel van kollektiewe beleggings produkte, met ander woorde, ‘n beleggingsproduk waarin klomp mense gesamentlik belê. Dit is gereeld die onderliggende belegging in jou pensioen- of bewaringsfonds, belastingvrye belegging of selfs net ‘n vrywillige belegging. Dit is ‘n toeganklike instrument vir jou geld as jy diversiteit soek (nie al jou eiers in een mandjie nie), maar nie baie kennis rakend die mark het nie, genoeg tyd om aktief daarop te spandeer nie of nie baie geld het om in te sit nie. Jy kan by meeste van hierdie fondse aansluit met R500 ‘n maand, en by sommiges met selfs minder.
So hoe werk dit?
Kom ons neem aan jy het R500 wat jy wil spaar vir die langtermyn. Jy het gehoor dat rente op ‘n spaarrekening partykeer nie eers genoeg is om die werking van inflasie teen te staan nie en jy wil jou geld vir jou laat werk.
Jy belê jou geld in ‘n beleggingsfonds en met jou R500 per maand kry jy sommer blootstelling tot Microsoft, Apple, Johnsons and Johnsons, ABSA Bank en Dischem – alles name waarvan jy hou en dink jou geld is veilig hierin. Maar hoe kry jy dit reg as een Microsoft aandeel meer kos as R500?
As jy in ‘n beleggingsfonds belê het jy nie direkte Microsoft, Apple, ensovoorts aandele nie, maar eenhede in die beleggingsfonds (participatory units in ‘n unit trust – waar die naam vandaan kom). Die fondsbestuurder het die aandele gaan koop vir die fonds met al die mense wat saam hierin belê het se geld en die eenhede verdeel sodat elke belegger sy gedeelte van die fonds besit – alles mooi verpak in ‘n toeganklike produk vir enige iemand. Jy kry dan natuurlik die voordeel asof jy die onderliggende aandele besit. Vir sy deurlopende navorsing en bestuur van die fonds, betaal jy ‘n klein fooi aan hom jaarliks. Basies, is alles in die emmer gegooi en jy kan ‘n gedeelte van die emmer besit soos illustreer.
Mens kry verskillende tipe fondse, met ongeveer 1500 keuses net in Suid-Afrika. Dit is dus moeilik om altyd seker te maak jy kies ‘n kwaliteit fonds en een wat vir jou sal goeie groei bied in die langtermyn, maar jy kan leer hoe om die fondse te evalueer of ‘n professionele finansiële beplanner gebruik. Mens kan fondse kry wat net in myne belê, of net in oorsese aandele, selfs fondse wat die hele JSE naboots. Jy kan selfs fondse kry wat net in tegnologie maatskappye of net in ontwikkelende lande belê is; wat net in korttermyn instrumente of langtermyn instrumente of ‘n kombinasie daarvan is. Die wêreld is, heel letterlik, jou speelgrond hier.
Vir vrae hieroor, kontak ons gerus en loer uit vir nog artikels om jou kennis oor jou persoonlike finansies te verbeter en seker te maak niemand vang jou in ‘n wip nie.
Bank beter | spaar beter | slaap beter!
Oor en uit.