Goeie skuld of slegte skuld?

Goeie en slegte skuld

Suid-Afrikaners het gemiddeld heelwat meer persoonlike skuld as baie ander inwoners van die Aarde, en dit is meeste van die tyd slegte skuld. Mens kry gewoonlik twee tipes mense: dié wat glo kontant is koning en nie met ‘n tien voet paal naby skuld wil kom nie, of dié wat hulle kredietkaart gebruik sonder enige perke. ‘n Goeie balans kan egter in die middel gevind word, want nie alle skuld is slegte skuld nie. Dit is ook nie algemeen dat mense bates, soos huise, karre, of tersiêre opleiding, kan verkry sonder om van skuld gebruik te maak nie.

Daar is nie altyd ‘n spesifiek swart of wit area wat goeie en slegte skuld aan betref nie, en die person se omstandighede moet steeds in ag geneem word.

Goeie skuld is gewoonlik die geld wat jy skuld op items wat jou help om bates te koop; wat jou netto batewaarde of jou inkomste kan verhoog. Dit sluit dinge soos verbandlenings, besigheidslenings en studiegeld in. Jy koop basies iets wat jou kan help om jou geld in méér in te verander.  

Slegte skuld is daardie skuld wat gemaak word om verbruiksgoedere wat ‘n kort leeftyd het te koop. Met ander woorde, items wat net gebruik word en nie bydra tot jou bates of om vir jou ‘n inkomste te genereer nie. Dit sluit dinge soos gewone produkte en dienste in, byvoorbeeld klere, kos en vermaak.

Kredietkaartskuld kan as goeie skuld beskou word, indien jy dit verantwoordelik gebruik soos wat jy hier meer van kan lees. In kort, dit kan dalk as goeie skuld beskou word as jy dit elke maand 100% afbetaal en nie net die minimum betaling maak nie. Meeste transaksies wat op kredietkaarte deurgaan en wat nie aan die einde van die maand ten volle betaal word nie, is egter slegte skuld.

En moet my nie verkeerd verstaan nie, as jy regtig iets wil hê sal jy beslis ‘n saak kan maak oor hoekom dit goeie skuld is. Ek self kon al verduidelik oor hoe hierdie koffiemasjien my eintlik geld gaan spaar of dat mens nog klere nodig het vir werk, maar ongelukkig is dit nie hoe dit werk nie. As mens die item baie graag wil hê, maar nie nodig het nie, kan jy eerder elke maand daarvoor spaar met die gebruik van ‘n sinkfonds totdat jy dit kan bekostig.

Maak seker jy dink ordentlik na oor die rente en verpligting wat jy teenoor skuldeisers gaan hê sodra jy daardie lening maak. Gaan die item wat jy koop, werklik die gevolge van skuld werd wees?

Oor en uit.