Swipe daai plastiek!

Ek het een keer gelees: “Kredietkaarte is ‘n fantastiese manier om vir goed te bepaal, maar ‘n verskriklike manier om mee geld te leen”. Aanvanklik is dit ‘n vreemde stelling, want om op mens se kredietkaart te koop, is tog altyd op skuld?

Liewe leser. Kredietkaarte is hoog op die lys van moet-hê’s volgens almal wat glo hulle het die poorte tot volwassenheid bereik. Blykbaar hope skuld ook. Dit hoef egter nie te wees as jy dit rég gebruik nie. Rustig slaap is baie lekkerder as die idee dat jou rente-uitgawe elke sekonde aan die oploop is.

Kredietkaarte maak ‘n nuwe wêreld oop, maar soos meeste dinge wat vryheid en geleenthede bied, moet dit wys gebruik word vir daardie effek sodat dit nie backfire en vir jou jare se kopsere veroorsaak nie. Maak dus seker jy weet presies hoe en wat, voordat jy begin om die plastiek warm te swipe.

Kredietkaarte en hulle voordele

  • Kredietkaarte is een van die maklikste en vinnigste maniere vir jou om ‘n goeie kredietrekord mee op te bou, wat jou kan bevoordeel wanneer jy wil huur, bates koop soos karre of huise, rekeninge oop maak, ensovoorts.
  • Dit is gemaklik en veilig! Kredietkaarte maak die lewe gerieflik; van aanlynwinkels, en tolhekke tot geld spandeer oor internasionele grense is skielik baie toeganklik. Boonop hoef mens nie met kontant rond te loop wanneer jy met vakansie is in die vreemde nie.
  • Indien jy aan die einde van elke maand jou kredietkaart skoon betaal, betaal jy ook nie onnodige rente aan die bank nie. Jy kon ook op die manier punte bymekaar maak by die verskillende banke se rewards-programme byvoorbeeld eBucks.
  • Dit kan jou lewe bietjie makliker maak gedurende noodgevalle, wanneer jou Ag f*K-fonds nog nie voldoende is nie.

Die gevaarkant van kredietkaarte

  • Mense besef nie altyd hoeveel geld hulle aan rente spandeer wanneer hulle elke maand net die minimum betaling op hulle kredietkaarte maak nie. Die verpligte minimum betaling is van so aard dat jy minimaal van jou skuld af betaal, en hoofsaaklik net rente betaal.
  • Die gerieflikheid van kredietkaarte maak dit partykeer byna té toeganklik en voor mens kan dink aan die rente en dat jy dit een of ander tyd moet betaal, sit jy met hope skuld en dit voel asof jy nooit ontslae gaan wees van kredietkaartskuld nie!

Dus, kan mens beslis kredietkaarte vir goeie doeleindes aanwend! Jy kan ‘n kredietrekord bou en vakansie hou soos ‘n professional – sonder die bekommernis dat iemand jou rot en kaal gaan besteel. Maak egter seker jy het die vermoë om te betaal waarvoor jy swipe, en nie jou kredietkaart te gebruik vir ‘n onbeperkte shopping spree nie. Maak byvoorbeeld seker jy het reeds die geld beskikbaar in ‘n ander rekening of weet dat dit binne jou begroting pas, sodat jy dit met sekerheid aan die einde van die maand kan terug betaal. Dit kan ‘n ver pad vir jou finansiële beplanning en lewe beteken as jy hierdie ou stukkie plastiek met respek gebruik.

Dis nie ‘n gratis lening nie.

Oor en uit.