Wat presies is aandele?

Haai! Ek het al paar keer met mense by ‘n braai gesels en dan vra iemand wat aandele is en hoe dit nou eintlik werk. Die vraag klink soms vir iemand wat groot geword het met die konsep baie eenvoudig, maar ek besef dit word nie altyd ordentlik verduidelik nie omdat mense aanneem ander weet, of hulle onkunde wil gebruik om hulle in ‘n slenter te vang en geld te steel. Ons het die vorige keer gesels oor wat presies unit trusts is, so kom ons kyk nou na aandele en die konsep van dividende. Ek sal in die bespreking hoofsaaklik fokus op aandele wat publiek verhandel word, op platforms soos die Johannesburgse Effektebeurse (JSE). Al wat dit beteken is, jy kan by byna enige bank/beleggingsplatform van hierdie aandele kry, en dis nie een of ander privaat besigheid nie.

 

Wat presies is aandele?

‘n Aandeel in ‘n besigheid is die gedeelte of proporsie van die besigheid wat jy besit of jou belang in die besigheid, terwyl die ander aandele aan ander mense behoort. Aandele is die eenhede waarin eienaarskap gemeet word. Byvoorbeeld, jy en 10 vriende koop ‘n besigheid en elkeen sit ewe veel geld in. As die maatskappy geregistreer is met 100 aandele, besit julle elkeen nou 10 aandele van die besigheid. Jy kan ook aandele in groter maatskappye koop wat name soos Microsoft, Apple, Walt Disney, Coca-Cola, ensovoorts insluit. Die geld wat vanaf aandele na die maatskappy toe vloei help hulle om uit te brei en aan die gang te bly. As ‘n maatskappy byvoorbeeld R1 miljoen werd is en jy wil in hom belê, kan jy aandele in hom koop as jy hom nie in geheel kan bekostig nie.

 

Hoe werk aandele?

So, ons verstaan nou dat aandele ‘n gedeelte van ‘n besigheid verteenwoordig. Jy kan jou aandele koop of verkoop op ‘n platform soos die JSE waar vraag en aanbod die prys daarvan sal bepaal. Jy kan dus geld maak deur jou aandeel te koop vir R10 en hom dan dalk te verkoop later vir R15. Jy kan ook ‘n inkomste kry deur middel van dividende. Dividende is ‘n gedeelte van die maatskappy se winste wat hulle vir die aandeelhouers terug betaal wanneer hulle nie iets beter daarmee kan doen nie.  Nie alle maatskappy betaal dividende nie, veral nie groeiende maatskappye nie, omdat hulle die winste herbelê in die besigheid sodat die besigheid kan groei.

 

Unit trusts het bestuurders wat self die aandele koop en dan hoef jy nie te kies of te soek vir goeie maatskappye nie; jy koop net aandele in die unit trust. Dis nie altyd maklik om te kies watter aandele jy wil koop nie, veral nie as dit onbekende maatskappye is nie. Beleggers en unit trust-bestuurders doen gewoonlik hulle huiswerk deeglik voordat hulle op ‘n maatskappy besluit om aandele in te koop vir hulle portefueljes. Die maatskappy mag dalk baie agteruit gaan en dan kan jy jou geld verloor. Dit moet egter in gedagte gehou word dat dit oor die laaste 100 jaar die beste belegging was om jou geld in aandele/ekwiteit te hou vir die beste groei oor die langtermyn.

 

As jy nog enige vrae hieroor of iets anders F I N A N S I E S het, maak gerus kontak!