5 redes om so vroeg moontlik finansieel savvy te word

5 redes om so vroeg moontlik finansieel savvy te raak

Liewe leser.

Ons hoor altyd hoe belangrik dit is om te leer begroot en om met geld te werk. Ons deel maklik grappies op sosiale media oor wat ons éérder in die LO-klas sou wou leer, wat baie keer dinge rakend belasting en aftrede behels. Dit sou great wees, maar ongelukkig het ons nie. So wat staan ons te doen? Jy kan óf aanhou die grappies deel en wens jy het meer geweet, óf jy kan aanhou die grappies deel en terselfde tyd jouself bemag met kennis.

Behandel jouself soos iemand waarvoor jy verantwoordelik is. Niemand gaan jou met ‘n lepel voer nie, dus is jy op jouself aangewese om die dinge te leer wat nooit vir jou geleer is nie. Dit voel dalk asof jy eerder jou twintigs wil deur kuier en sonder enige bekommernisse lewe. Ek bedoel, mens is net een keer jonk, reg?

Wat is die voordeel daarvan om al van jongs af finansieel savvy te raak?

  1. Jy het dan veel langer om die voordeel van saamgestelde rente te voel. Hoe vroeër jy begin, hoe langer kan jou geld vír jou werk en hoeveel minder hoef jy fisies te spaar. Om die effek van saamgestelde rente oor tyd te sien, kliek hier.
  2. Jy kan met heelwat minder spyt sit later in jou lewe. Dit is makliker om finansiële foute of verkeerde besluite vroeg in jou lewe te absorbeer en weer te herstel, as om op ‘n later ouderdom alles te moet verloor. Leer eerder jou lesse vroeg.
  3. Jy gaan jou doelwitte vroeër kan bereik!
  4. Jy stel ‘n goeie voorbeeld vir jou kinders wanneer jy die groter prentjie in ag neem met jou finansies.
  5. Jy kan ‘n lekkerder en gemakliker leefstyl handhaaf.

En kom ons wees eerlik, jy gaan beslis ook minder stres as jy weet daar is voorsiening gemaak vir bederf, vakansie, noodgevalle, aftrede en al die groot uitgawes waarvan jy bewus is. Begin sommer vandag met ‘n begroting en begin jou doelwitte najaag. Sodra jy weet hoekom jy dit doen, hoe makliker sal dit wees.

As jy enige vrae het, kontak ons gerus!

Oor en uit.