Belastingvrye… gratis middagete!

Liewe leser

Suid-Afrikaanse huishoudings het van die laagste spaarkoerse in die wêreld. Die staat het dit besef en het dit goed gedink om produkte op die mark te stel om mense te motiveer om meer te spaar. Belastingvrye Spaarplanne en Beleggingsplanne is bekendgestel, wat jou toelaat om tot ‘n maksimum van R36 000 jaarliks en R500 000 in jou leeftyd by te dra tot een van hierdie planne. Jy sal nie enige belasting op die dividende, rente of kapitaalwins betaal nie. Daar bestaan nie iets soos ‘n gratis middagete in hierdie harde wêreld nie, maar hierdie is so naby as wat mens kom en wanneer sulke geleentheid aan jou deur klop – is dit ‘n goeie idee om dit met beide hande aan te gryp!

Die rekeninge is maklik toeganklik, selfs deur jou bank of enige beleggingsfirma. Daar is egter detail waarvan jy moet bewus wees om te verseker jy verspeel nie jou R500 000 per ongeluk nie.

Hier is ‘n paar kitsfeite rakende hierdie beleggings:

  • Jou maksimum bydrae per belastingjaar is R36 000 en R500 000 in jou leeftyd. Enige bydrae meer as dit sal teen 40% belas word. Hierdie is net die toelating van jou bydrae, en die belegging self kan groei verby dit.
  • Sou jy geld onttrek, kan jy dit nie weer herbelê nie en het jy daardie toelating verbeur. Byvoorbeeld: As jy ‘n debietorder van R3 000 per jaar het in ‘n belastingvrye belegging in, en jy onttrek R10 000; kan jy nie R10 000 ekstra belê voor die belastingjaar eindig nie want dan gaan dit gesien word as R46 000 vir die jaar en jy gaan 40% belasting op daardie R10 000 betaal.
  • Jy kan die geld in hierdie produk in verskeie onderliggende bates belê en hoef dit nie net in ‘n spaarrekening met ‘n vasgestelde rentekoers te hou nie. Dit kan in Unit trusts en ETF’s ook belê word.
  • Anders as pensioengeld, word hierdie beleggings nie voorgeskryf in watter lande dit belê moet word nie en kan jy tot 100% van jou geld in buitelandse fondse hou met blootstelling aan name soos Google, Microsoft, ensovoorts.
  • Jy kan enige tyd toegang tot jou geld verkry.

Wanneer jy jou maksimum R500 000 bydrae bereik het, kan jy die geld daar laat en verder laat groei tot wanneer jy dit die dag nodig het. Jy kan dus die voordeel van saamgestelde rente trek oor jare wanneer jy so vroeg as moontlik hierdie reg kry.

Selfdissipline is die sleutel indien jy hierdie produk wil gebruik vir ‘n aanvulling tot jou aftreegeld.

‘n Voorbeeld van hoe dit jou beleggings kan help lyk soos volg: Jy begin op 25 om jou volle R3 000 per maand by te dra en belê dit in ‘n Unit Trust met 100% blootstelling aan die buitelandse markte. Dit bied vir jou ‘n groei van 11.80% per jaar. Teen die ouderdom van 38.8 jaar, het jy jou volle R500 000 bygedra en staan jou belegging reeds op R1 253 405. Jy besluit om die geld in die fonds te los tot jy 65 is. Teen 65 jaar oud, staan jou belegging op R23 065 401 met die groei aanname van 11.80%. Geen inkomstebelasting hoef op hierdie geld betaal te word wanneer jy dit gebruik vir aftrede nie. (Hierdie groeikoers is gebaseer op ‘n bestaande fonds se langtermyngroeikoers.)

Indien jy enige verdere vrae het, kontak ons gerus.

Oor en uit.