Goeie skuld of slegte skuld?
Die bekende boekreeks, Rich Dad Poor Dad, se skrywer het die volgende gesê:
Good debt is a powerful tool, but bad debt can kill you.”
– Robert Kiyosaki
Suid-Afrikaners het gemiddeld heelwat meer persoonlike skuld as baie ander inwoners van die Aarde, en dit is meeste van die tyd slegte skuld. Mens kry oor die algemeen twee tipes mense: dié wat glo kontant is koning, en dié wat hulle kredietkaart gebruik sonder enige perke. ‘n Goeie balans kan egter in die middel gevind word, want nie alle skuld is slegte skuld nie.
Daar is nie altyd ‘n swart of wit area wat goeie en slegte skuld aan betref nie, en die persoon se omstandighede moet steeds in ag geneem word.
Goeie skuld is gewoonlik die geld wat jy skuld op items wat jou help om bates te koop; wat jou netto batewaarde of jou inkomste kan verhoog. Dit sluit dinge soos verbandlenings, besigheidslenings en studiegeld in. Jy koop basies iets wat jou kan help om jou geld in méér in te verander. Bitter min mense kan bates soos huise, karre, besighede en tersiêre opleiding met kontant bekostig en hierdie tipe skuld gee jou dus die geleentheid om jou netto batewaarde te verhoog.
Slegte skuld is daardie skuld wat gemaak word om verbruiksgoedere wat ‘n kort leeftyd het, te koop. Met ander woorde, items wat net gebruik word en nie bydra tot jou bates of om vir jou ‘n inkomste te genereer nie. Dit sluit dinge soos gewone produkte en dienste in, byvoorbeeld klere, kos en vermaak. Rekening wat jy by gewone retail winkels het is gewoonlik slegte skuld.
Kredietkaartskuld kan as goeie skuld beskou word, indien jy dit verantwoordelik gebruik soos wat jy hier meer van kan lees. In kort, dit kan dalk as goeie skuld beskou word as jy dit elke maand 100% afbetaal en nie net die minimum betaling maak nie. Meeste transaksies wat op kredietkaarte deurgaan en wat nie aan die einde van die maand ten volle betaal word nie, is egter slegte skuld.
En moet my nie verkeerd verstaan nie, as jy regtig iets wil hê sal jy beslis ‘n saak kan maak oor hoekom dit broodnodig is. Ek self sal vir jou kan verduidelik oor hoe hierdie koffiemasjien my eintlik geld gaan spaar of dat mens nog klere nodig het vir werk, maar ongelukkig is dit nie hoe dit werk nie. As mens die item graag wil hê, maar nie nodig het nie, kan jy eerder elke maand daarvoor spaar met die gebruik van ‘n sinkfonds totdat jy dit skuldvry kan bekostig. Jy skiet op die ou end van die dag net jouself in die voet.
Maak seker jy dink ordentlik na oor die rente en verpligting wat jy teenoor skuldeisers gaan hê sodra jy daardie lening maak. Gaan die item wat jy koop, werklik die gevolge van skuld werd wees?
Oor en uit.