Januarie voel altyd soos drie dekades kompak verpak binne 31 dae, waarvan die eerste eeu die langste voel. Dis skokkend hoe baie mense bereid is om skuld te maak net vir Desember-uitgawes. Kersfees is veronderstel om ‘n wonderlike tyd van die jaar te wees, waartydens ons omring word met ons geliefdes en onsself knuppeldik eet. So lekker as wat dit is om ons mense te bederf en om te gee en gee en gee – so hard tref realiteit mens as jy Mei steeds jou kredietkaart probeer afbetaal as gevolg van hierdie feestelike seisoen.
Probeer die volgende stappe om dit te voorkom:
- Stel ‘n begroting vir uitgawes, veral geskenke! Volgens ‘n Amerikaanse studie verkies 36.5% van mense eerder ‘n ervaring as ‘n geskenk. In 2019 is ‘n artikel gepubliseer wat reken daar word tot $15.4 biljoen se geskenke word gekoop wat nie gesoek word nie. Vra vir lysies en hou die prakties. Hoekom jou geld mors as dit in elk geval nie waardeer gaan word nie? Jy kan ‘n gratis template (sjabloon) hier aflaai in Excel of in PDF om jou te help begroot vir Kersgeskenke.
- Gebruik jou spaargeld wys. Ag f*k-fondse en ander spaargeld wat eintlik gespaar is vir iets anders moet nie nou skielik getap word vir in-die-oomblik aankope nie.
- Gebruik jou lojaliteitsbesparings en geskenkbewyse wat jy dalk nog het. Suid-Afrika het van die beste lojaliteitsprogramme by winkels en jy kan dit maklik gebruik om te help betaal aan jou uitgawes gedurende Desember.
- Betaal die kredietkaart af eerste ding in Januarie – en wanneer dit begin lyk asof jy nie gaan kan nie, want die skuld raak te veel – draai bietjie die krane toe en hou op spandeer.
- Vergelyk pryse en snuffel vir winskopies. Moet nie net die eerste beste ding koop nie, kanse is baie goed dat daar iemand is met ‘n beter prys.
- Gee vouchers! 33.5% van mense in die Amerikaanse studie het aangedui dat hulle eerder geskenkbewyse sou wou hê vir Kersfees. Ten minste weet jy dan hulle sal iets kry wat hulle nodig het/wil hê, eerder as maak asof hulle dankbaar is.
- Begin ‘n sinkfonds in Januarie vir volgende jaar se Desemberuitgawes! Jy kan hier meer lees daaroor, maar kortliks: as jy sien jy spandeer ongeveer R5000 ‘n jaar aan Kersgeskenke, spaar elke maand ‘n deel daarvan sodat jy Desember dit skuldvry kan doen. R5000/12 = R416.66 per maand. Dis aansienlik makliker om R416.66 elke maand een kant te sit, as skielik R5000 in een maand. Om nie eers te praat van die onnodige uitgawe op rente as jy eerder in skuld in delf nie.
Ek is self skuldig daaraan om Desember net te wil spandeer! Dit is egter jy wat die las gaan dra as jy die matigheid voor oë hou nie. Wees wys. Haal Januarie asem sonder iemand wat oor jou skouer kyk in afwagting vir hulle deel van jou salaris. Soos hulle sê: “as dit jou vrede kos, is dit te duur”.
Oor en uit.