Kredietkaarte is nie noodfondse nie

Liewe leser,

Ons hoor gereeld in flieks, TV-reekse of die mense rondom ons dat kredietkaarte vir noodgevalle is, maar ons moet egter onthou dat dit nie dien as ‘n noodfonds nie. Ons tref onderskeid tussen twee tipes noodfondse by Bank Beter:

  1. Ag f*k-fondse vir werklike noodgevalle, en
  2. Donderstormfondse, wat voorsiening maak om jou leefkoste te dek vir 3 tot 6 maande.

‘n Fonds is uit die aard van die saak geld wat opgehoop het en beskikbaar is vir gebruik. Hierdie is fondse wat spesifiek opsy geplaas is vir toekomstige situasies waarin dit dalk sal kan help vir onbeplande uitgawes of om die stres van reeds stresvolle situasies te verminder. Dit kan dinge insluit soos om jou werk te verloor, of wanneer jou kar onbepland ‘n nuwe band nodig het ondanks ‘n slaggat. Ja, jy kan die plastiek swipe en al hierdie dinge met krediet betaal, maar al wat jy veroorsaak is om ‘n addisionele uitgawe te vorm wat uiteindelik afbetaal moet word.

Die skuld én moontlike rente op jou kredietkaart gaan tog uiteindelik moet terugbetaal word, wat baie keer nie die stresvlakke direk na ‘n noodgeval enigsins aanhelp nie. Jy finansier dus jou noodgeval met ‘n lening. Indien jy jou kredietkaart gebruik as ‘n Ag fok- of Donderstormfonds kan dit jou lui maak om ‘n goedkoper oplossing te kry vir die probleem, of om selfs ‘n DIY projek daarmee aan te pak, omdat jy so gemaklik terugval op die betroubare plastiek en dit nie nodig ag om aan ander moontlikhede te dink nie.

Dink net egter, as jy ‘n noodfonds het, sal jy:

  • Waarskynlik nie net alles wil blaas nie, omdat jy weet hoeveel selfdissipline dit geneem het om op te bou en sal jy jou oplossings strategies en effektief probeer kies; en
  • jy kan die fonds weer stelselmatig herbou, in plaas van om rente en gedwingde afbetalings aan ‘n bank te moet maak.

Jy kan natuurlik ook mettertyd jou kredietkaart se beperking bereik, veral in gevalle waar jy vir ‘n lang tydperk nie ‘n inkomste kry nie of wanneer meer as een onbeplande uitgawe hulle verskyning kort op mekaar se hakke maak. Daar sal waarskynlik tye wees waartydens jy nie ‘n ander keuse het as om jou kredietkaart te gebruik nie en mens dan nie wil sit met ‘n limiet wat reeds bereik is nie. In situasies waar daar byvoorbeeld twee of drie uitgawes waarop jy nie begroot het nie opduik, sal jy dalk net een met skuld moet betaal, eerder as al drie en sodoende die las op jou skouers onmiddelik kan verlig en slapelose nagte vermy.

Koop vir jou vryheid én slaap gedurende noodgevalle, sodat jy nie onnodig skuld hoef te maak nie deur nou ‘n maandelikse bedrag opsy te begin sit vir noodfondse. Stel vir jouself ‘n doelwit en begin daarna werk. Finansiële vryheid gaan bitter min oor geld, en verskriklik baie oor jou kwaliteit van lewe.

Oor en uit.