Haai daar liewe leser
Die kanse dat jy al van skuldberading (debt counselling) gehoor het is goed, waarskynlik omdat True Caller jou van hulle oproepe waarsku twintig keer ‘n week. Ek dink daar is egter gereeld ‘n wanbegrip van wat presies skuldberading is, want daar is omtrent ‘n horde soortgelyke terme wat die rondte doen en nie baie van hulle het ‘n goeie naam daar buite nie. Skuld en geselsies oor skuld is nou nie regtig die mees opwindendste onderwerp nie, maar ek belowe dis meer opwindend om te weet waaroor alles gaan as om per ongeluk in ‘n situasie te beland waar jy verder te nagekom word of nie te weet na watter hulp om te soek sou jy in ‘n ongewensde finansiële posisie beland.
Ek het dus bietjie met Bernidene by CS Debt gesels en Salary Management Services se kennis aangevra, sodat ons agter die kap van die byl kan kom. ‘n Reeks artikels sal verskyn wat verwante konsepte en prosesse dek. Hierdie artikel fokus op die verskil tussen skuldberading en skuldinvordering (debt counselling/ review en debt collection).
Kom ons begin egter deur ‘n eenvoudige Afrikaans-Engelse opsomming:
Indien jou skuld te groot geraak het vir jou om gemaklik te hanteer, of jou omstandighede het skielik drasties verander, is daar verskeie maniere om die situasie hanteer. Daar is ongelukkig mense wat vir jou maanskyn en rose belowe, en sodoende kennis oor die verskillende metodes en watter een moontlik vir jou die beste sal werk belangrik maak. Kennis is mag, onthou dit.
Die vier hoofmetodes om van oormatige skuld ontslae te raak is: skuldberading/skuldhersiening, administrasie, skuldkonsolidasie, sekwestrasie.
Indien jy nie meer jou maandelikse paaiemente kan meemaak nie en/of krediteure dreig jou met regsaksie, is dit ‘n goeie tyd om jou opsies te begin oorweeg. Swartlys/blacklist is ‘n konsep wat mense laat ril, maar onthou dat jy jou naam weer skoon kan kry met dissipline en die regte hulp. Dit is baie belangrik om skuldberading/hersiening te oorweeg V O O R D A T jy oorgegee word en ‘n garnish op jou salaris geplaas word, want dan kan die skuldberaders nie meer vir jou ‘n beter deal beding en ‘n plan uitwerk nie.
Wat is skuldberading, ook bekend as skuldhersiening?
Skuldberading is ‘n regsproses waarvolgens die hof toestemming gee dat ‘n skuldberader jou skuld herstruktureer en met ‘n nuwe betalingsplan vorendag kom om jou te help om van jou skuld ontslae te raak. Die plan sal dan voor die hof gelê word en indien toestemming verleen word, begin die proses om jou te rehabiliteer om met skuld te werk sowel as om die skuld te begin af betaal.
Die herstruktureringsproses beoog om die maandelikse betalings wat jy tans moet meemaak te verlaag en mettertyd jou kredietrekord te verbeter, sodat jy weer kan funksioneer sonder iemand wat oor jou skouer loer. Die proses word oorgesien deur die Nasional Krediet Reguleerder, wat beteken dat jy en jou besittings beskerming teen jou krediteure sal geniet gedurende die proses.
Die skuldberader sal namens jou onderhandel met jou die mense/plekke aan wie jy geld skuld, om rentekoerse te verlaag en die paaiemente meer hanteerbaar vir jou te maak. Die tydperk waartydens jy die uitstaande skuld gaan afbetaal sal verhoog, terwyl die paaiement verlaag. Die dienste van die skuldberader sal by jou maandelikse paaiement ingesluit word. Jy gaan egter nie aansoek kan doen vir enige nuwe skuld solank as wat jy besig is om hierdie skuld af te betaal nie.
Wanneer jy die reis voltooi het en al jou skuld is afbetaal, sal die skuldberader vir jou ‘n klaringsertifikaat (clearance certificate) uitreik sodat jy enige negatiewe inligting van jou kredietrekord af kan verwyder en weer toegang tot krediet kan verkry. Die skuldberadingsproses neem tot en met 60 maande.
Wat is skuldinvordering?
Skuldberading moet nie verwar word met skuldinvordering nie. Skuldinvordering is wanneer die plekke aan wie jy geld skuld, jou oorhandig aan ‘n invorderaar om namens hulle die fondse in te samel. Hierdie sal gebeur nadat jy paaiemente/betalings gemis het. Skuldinvorderaars verdien ook ‘n wesenlike gedeelte van die geld wat hulle invorder (binne regulasies) en sal dus ver gaan om seker te maak jy betaal jou skuld.
Dis dit vir nou.
Oor en uit.