Liewe leser.
Ek dink daar is groot verwarring onder ‘n magdom mense, so kom ons stel dit vandag reguit: om te spaar en om te belê is twee totale verskillende dinge.
Wat beteken dit om te spaar of te belê?
As jy jou geld spaar dan sit jy geld opsy in ‘n veilige plek, gewoonlik vir ‘n spesifieke doel. Hierdie geld is in kontantprodukte of gewone bankrekeninge waarop jy ‘n vasgestelde rente verdien. Dit is selfs die geld in jou spaarblikke of onder jou matras – as dit enige rente verdien, is dit waarskynlik minimaal. Dit sal gebruik word vir ‘n vakansie, spesifieke produk, deposito op ‘n bate en vir jou Ag f*k-fonds. Mens spaar gewoonlik vir jou korttermyndoelwitte.
As jy jou geld belê, gebruik jy jou geld om te poog om vir jou meer geld te maak en dat dit in waarde sal toeneem mettertyd. Basies, om jou geld te kry om vir jou te werk, byvoorbeeld in aandele, eiendom, fondse, ensovoorts. Jy sal eerder begin belê, as spaar, wanneer jy voorberei vir jou medium- en langtermyndoelwitte. Mens sal jou portefuelje volgens jou doelwitte, risiko, en ander eienskappe wat dit kan beïvloed saamstel met verskillende tipes bates, soos aandele, fondse, eiendom, goud, ensovoorts.
Natuurlik gaan hoër groei hand-aan-hand met hoër risiko, maar dis hoekom jy steeds sal seker maak dat dit goeie gehalte beleggings is en dat jy die geld vir ‘n langer tydperk nie gaan nodig kry nie. Die verskil tussen R5000 in ‘n spaarrekening vir tien jaar en R5000 in ‘n goeie beleggingsfonds vir tien jaar (geen belasting in ag geneem nie):
- As jy R5 000 in ‘n rekening gaan los vir tien jaar wat ongeveer 4.5% saamgestelde rente verdien (as jy gelukkig is op die stadium), sal jy na tien jaar R7 764.85 hê.
- As jy R5 000 in ‘n goeie fonds belê vir tien jaar, wat ongeveer 9.3% verdien (koers verkry vanaf ‘n Suid-Afrikaanse aandelefonds), sal jy na tien jaar ongeveer R12 166.67 hê.
Die verskil lyk nie wesenlik as jy vlugtig loer nie, maar dink net wat ‘n langer tydperk en gereelde bydrae tot die belegging kan beteken in die groter prentjie.
As mens jou ideale leefstyl wil bereik, sal dit belangrik wees om spaar en belê te inkorporeer in jou finansiële plan.
Kom ons kyk na verskillende voorbeelde, en wat jy eerder sal doen vir daardie doelwit:
Scenario | Spaar of belê? |
Jou kind is 3 jaar oud en jy wil graag spaar vir hulle troue. | Belê |
Jou kind gaan oor 4 jaar Universiteit toe en jy sal graag wil spaar vir ‘n woonstel. | Spaar |
Jou aftrede oor ongeveer 30 jaar. | Belê |
Jy wil ‘n kar koop en moet spaar vir ‘n deposito | Spaar |
Jy tree oor ongeveer 5 jaar af en beoog om 30 jaar van jou aftreegeld af te lewe. | Spaar en belê |
Jy wil begin spaar vir jou kind se Universiteit sodra hy gebore word. | Belê |
Ek hoop dit help jou met jou reis na finansiële vryheid. Kontak my gerus vir enige onsekerhede.
Oor en uit.